Rapport JOHANNESBURG FINAAL Sondag 28 Februarie 1999

Groot verskeidenheid by Griekse kultuurfees

DIMITRIS SGOUROS, die Griekse wonderpianis wat vyf uitvoerings in Suid-Afrika lewer.

Deur PAUL BOEKKOOI: Johannesburg

IN Maartmaand word die heel eerste Griekse kultuurfees in Suid-Afrika aangebied.

Betrokke by dié grootse projek, wat alle kunsvorms en selfs 'n egte Griekse simposium sal insluit, is die Algemene Sekretariaat van Grieke in die Buiteland in samewerking met die Federasie van Helleense Gemeenskappe.

Die doel met die fees is om die breër Suid-Afrikaanse samelewing kennis te laat maak met verskeie aspekte van die Griekse kuns en lewenswyse.

Grootste onder die uitvoerende kunstenaars wat gehoor gaan word, is die 27-jarige pianis Dimitris Sgouros, wat reeds 'n loopbaan van 22 jaar agter die rug het. Dié wonderkind wat die oorgang na volwasse kunstenaar sonder enige letsels deurstaan het, gaan in vier solo-uitvoerings en 'n concerto gehoor kan word.

Die Moederstad kom eerste aan die beurt: Sgouros sal op 11 en 12 Maart werke van Beethoven, Chopin en Liszt in die Baxter-konsertsaal, Kaapstad speel voordat hy dieselfde program op 14 Maart vir die Joodse Klub in Durban en op 18 Maart in die Ou Mutual-saal van Unisa in Pretoria sal voordra.

Sy laaste optrede is op 20 Maart in die Linder-ouditorium, Johannesburg, wanneer hy saam met die Nasionale Simfonieorkes onder leiding van Richard Cock 'n uitvoering sal lewer van Rachmaninof se moordende Klavierconcerto no 3 in D mineur. Ander komposisies op dié program is deur die uiters toeganklike Griekse komponis Nikolaos Skalkottas.

Niemand minder nie as Arthur Rubinstein het die volgende oor Sgouros te sê gehad: ``Ek dank God dat hy my aan die lewe gehou het sodat ek in staat was om met my eie ore Sgouros te hoor speel. Hy is die beste pianis wat ek ooit gehoor het, insluitend myself''.

Jazz is ook op dié Griekse kultuurspyskaart. Nikos Touliatos en sy Trio gaan kragte saamspan met een van ons eie jazz-legendes, Abdullah Ibrahim. Hulle sal saam meesterklasse in Kaapstad aanbied, maar 'n konsert deur Touliatos en sy trio saam met Ibrahim is op 19 Maart in die Drama van die Staatsteater te hoor. Die daaropvolgende aand tree slegs die trio op in die Bassline, Melville, Johannesburg.

'n Egte Bisantynse koor uit Agrinio, saamgestel uit tien voorste sangers, sal in die vernaamste kerke rondom Gauteng optree. Belangrik hier is dat elkeen van dié kerke spesifiek vir hulle akoestiese hoedanighede gekies is.

Tussen 16 en 22 Maart sal hulle sewe uitvoerings onder leiding van koormeester Andrew Lanares in verskeie Helleense gemeenskappe, kerke en katedrale lewer, terwyl hul slotkonsert op 22 Maart in die Regina Mundi-kerk in Soweto sal plaasvind.

Tradisionele Griekse ligte musiek, maar diep gewortel in die geskiedenis van dié land, sal deur die Rembetiki-orkes met die naam Palia Rezerva aangebied word. Rembetiki roep die musiek van die eerste dekades van die 20ste eeu op.

Die sewe veelsydige lede van Palia Rezerva speel 'n verskeidenheid van instrumente, soos die Griekse mandolien (bouzouki), die baglama, die tzoura, die toumbeleki (almal tradisioneel) asook viool, ghitaar, trekklavier en slagwerk. Hulle sal tussen 13 en 20 Maart by verskeie Griekse gemeenskappe se sale te hore wees.

'n Fotografiese tentoonstelling onder die titel ``Man and Landscape'' sal tussen 18 en 28 Maart in die Sandtonse Biblioteek besigtig kan word. Dit verteenwoordig die voorste werk van drie Griekse fotograwe wat tussen 1930 en 1960 aktief was.

Tussen 26 Maart en 1 April word 'n Griekse Rolprentfees rondom die werk van die groot Griekse rolprentmaker Theo Angelopoulos in die Cinema Nouveau-kompleks in Rosebank, Johannesburg, aangebied. Die ses rolprente wat te sien sal wees is Eternity and A Day, Ulysses' Gaze, The Suspended Step of the Stork, Landscape in the Mist, The Bee-Keeper en Voyage to Cythera.

'n Eg-akademiese simposium waaraan sowel Suid-Afrikaners as Griekse geleerdes gaan deelneem, word van 24 tot 26 Maart by die Randse Afrikaanse Universiteit aangebied. Dit is 'n ``oop'' simposium en almal is welkom om dit gratis by te woon. Op 24 Maart begin dit om 18:00 in die E-les 200 lesingsaal, op 25 Maart van 9:00 tot 17:00 in die C-les 404 lesingsaal en op 26 Maart vanaf 10:00 tot 17:00 in dieselfde lesingsaal.

Dít, in breë trekke, is die hoogtepunte van die Griekse fees, maar indien meer inligting oor dié aktiwiteite en enige van die ander verlang word, skakel (011) 646-5630 of faks na (011) 646-8254.

Kaartjies vir die konserte en rolprentfees kan landwyd deur Computicket bestel word.

 

 

Beeld Plus Donderdag 18 Maart 1999

Klassieke Klanke

Dimitris Sgouros tree vanaand in Pretoria en Saterdagaand in Johannesburg op.

... dié Griekse pianis het in die middel-tagtigerjare op die toneel verskyn, of liefs gebárs, tot jubeling van al wat impressario was.

Kritici was in vervoering. Toe die knaap in 1982, as twaalfarige!, sy debuut in New York se Carnegie Hall met Rachmaninof se Derde klavierkonsert gemaak het Mtislaf Rostropowitsj het die Nasinale Orkes van Washington by daardie geleentheid gedirigeer het die New York Post ekstaties verklaar: ``Mnr. Mozart, mnr. Liszt, welkom, mnr. Sgouros.''

En hy wás iets besonders.

EMI het eerste ingespring en 'n eksklusiewe kontrak met hom gesluit. En toe sy opname van die einste Derde van Rachmaninof, die een wat David Helfgott in die rolprent Shine so bevlek het, verskyn, was die musiekwêreld gaande. Sgouros se weergawe, tussen al die ander skitteropnames, was verstommend.

Dit is in November 1983 in Berlyn opgeneem, met die Russiese dirigent Joeri Simonof voor die Berlynse Filharmonie.

Daarna het die tiener nog 'n paar solo-opnames gemaak, onder meer 'n hoog aangeskrewe een waarop die veeleisende Variasies op 'n tema van Paganini van Brahms (Boek 1 & 2) en Schumann se Simfoniese etudes saamgevoeg is.

In die jare negentig het Sgouros weer tekens van lewe begin toon, met onder meer 'n uitvoering vir die koninklikes van Brittanje in Buckingham-paleis, maar dit was so anderhalf jaar gelede, in September 1997, dat dié pianis weer in die openbare kollig verskyn het, met wat nou al bekend geword het as sy kenwysie, of sal 'n mens sê se kenconcerto Rachmaninof se Derde. Dit was toe pres. Boris Jeltsin hom na Moskou genooi het vir die 850ste herdenkingsjaar van die Russiese hoofstad.

Dit is dié concerto wat hy ook in Johannesburg gaan speel Saterdag om 20:00 in die Linder in Parktown saam met die Nasionale Simfonie-orkes met dié orkes se musiekdirekteur, Richard Cock, op die podium. (Tog jammer.)

Die Linder-konsert begin gepas met 'n werk van die Griekse komponis Nikolaos Skalkottas, wat vanjaar presies 'n halfeeu gelede in Athene oorlede is Vyf kort Griekse danse, drie jaar voor sy dood gekomponeer.

Vir die Unisa-konsert vanaand om 20:00 het Sgouros drie werke gekies Chopin se Ballade no. 3, Beethoven se Appasionata en Liszt se Sonate in B-mineur.

Die konsert volg op die onvergeetlike Theodorakis-konsert in November verlede jaar by Unisa. Toe kon g'n sterfling 'n kaartjie bekom nie; alle kaartjies is deur die Griekse gemeenskap opgeraap.

Dié keer doen die Suid-Afrikaanse Helleense Vereniging darem meer moeite, hoewel baie laat, om Sgouros se besoek bekend te stel.

Dus: kaartjies vir dié twee konserte kan wel by Computicket gekoop word, of per kredietkaart deur Teletix by (011) 445 8000 of (012) 326 4684.

Navrae kan aan die Griekse Stigting by (011) 484 4560 gerig word.

 

 

 

Dimitris Sgouros with Nelson Mandela at the Olympic Truce ceremony in Athens, June 2002


 


 

Back to Home Page - Free MP3 Music by Dimitris Sgouros